“
HIER op Audacia maak ons nog eintlik die wyn in die wingerd
en daarom is ek baie trots op wat ons klein boetiekkelder tot
dusver vermag het.” Aan die woord is me. Elsa Carstens,
wynmaker, bemarker en wingerdboukundige van Audacia-wyne, tussen
Stellenbosch en die Strand.
Die naam van dié wynplaas aan die suidelike hang van
die Helderberg naby Stellenbosch is op sigself beskrywend van
die ontstaan daarvan. En dit was die druk wat romanse soms
op ’n mens se lewe plaas wat direk aanleiding gegee het
tot die totstandkoming van dié landgoed. Die seun van
die eienaar van Neethlingshof, mnr. Kosie Louw, wou trou en
kon nie vir die goedkeuring van sy pa, of vir sy erfporsie,
wag nie. Hy het toe sy geldjies geneem en ’n deel van
die plaas Annandale gekoop, wat tussen gevestigde wynplase
soos Alto, Rust en Vrede geleë was. Sy vriende het dié daad
as audacious beskryf en sommer daar en dan het die plaas naam
gekry.
Dié streek is bekend vir die produksie van rooiwyn van
uitstaande gehalte met kultivars soos Cabernet Sauvignon, Roobernet,
Shiraz, Merlot en Cabernet Franc wat reeds talle wenwyne opgelewer
het.
|
Louw het hom in 1957 by sy pa aangesluit en ook die plaas
by hom geërf na sy dood. In 1978 het die wynmaakaktiwiteite
op Audacia skielik tot ’n einde gekom toe Louw sy smaak-
en proevermoë in ’n motorongeluk verloor het en
daar vir byna twee dekades geen wyn op die plaas gemaak is
nie.
Eers in 1996 het die plaas onder die eienaarskap van mev.
Diane en mnr. Trevor Strydom nuwe lewe gekry en het hulle
die plaas, nou slegs 26 ha groot, aangeskaf en weer begin
wyn maak. In 1998 het hulle besluit om die produksie van
witwyn heeltemal te staak en net op rooiwyn te konsentreer
omdat die plaas in die beroemde Goue Driehoek van rooiwynprodusente
geleë is. “Audacia is ’n boetiek-wynkelder
en ons maak net gehalterooiwyne van die 135 ton druiwe wat
ons jaarliks pars,” sê me. Elsa Carstens,
die plaas se wynmaker.
“ Ek wou nog altyd ’n boer geword het, maar omdat ek ’n vrou
was, het ek nooit ’n kans gestaan om my oupa se koringplaas in die Swartland
te erf nie. Ek moes maar my eie potjie krap en het die wynbedryf gekies,” het
sy gesê.
Carstens is die groot dryfveer agter die suksesse van Audacia en het reeds vroeër
haar merk op die wynbedryf gemaak toe sy die eerste vroulike lektrise in wynkunde
aan die Landboukollege Elsenburg was. Sy het ’n honneursgraad in landbou
en ’n meestersgraad in wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. “Ons
pluk ons druiwe met die hand sodat ons geen gehalte hoef in te boet nie. Daarna
word die druiwe in klein tenks gefermenteer voordat die wyn in Franse eikehoutvate
verouder,” het sy haar wenresep kortliks beskryf.
“ Dis ook die lekkerte van omtrent alles self doen en toesig hou oor die
hele wynmaakproses vandat die druiwestokke in die grond gesit word totdat die
produk in die bottel is wat dit vir my ’n passie maak om elke dag na
Audacia te kan terugkom. Daar is ook die groot uitdaging om met die groter, meer
bekende handelsname te kan meeding. Omdat ons so klein is, word daar nie altyd
baie van ons verwag nie, maar dit is lekker om tussen die groot name in die bedryf
gereken te kan word met ons uitstekende produkte,” het sy trots gesê. “ Toe
ek op Audacia gekom het, was hier niks, buiten ’n paar halwe
tenks en ’n tafel en stoele wat as proelokaal moes dien en hier was nie
eers behoorlike wingerde nie".
“ Ek het die voorreg gehad om te kon help om elke stokkie se wortels in
die grond te steek. In 2002 het ons die hele plaas oorgeplant en ek was van die
begin af by elke faset betrokke. Nou, na ’n hele paar jaar se swoeg en
sweet, begin ons die vrugte pluk en dit is ’n baie lonende ervaring,” het
sy gesê.
Haar lang verbintenis met die Stellenbosch-omgewing en haar deeglike akademiese
kennis, maak van Carstens die ideale persoon om die plaaslike omstandighede te
benut, ’n faktor wat krities belangrik is om wenwyne te kan produseer.
Wyne wat tans deur Audacia gemaak word, sluit in cabernet sauvignon 2001, wat
Suid-Afrika vanjaar by die Tri Nations-wynkompetisie in Australië verteenwoordig
het, Jeté cabernet sauvignon 2001, Coeur de Rouge 2001 (cabernet-merlot-versnit),
Shiraz 2002, Rouge Noble 2003 (cabernet-merlot-shiraz-versnit) en die nuwe Cabernet
Sauvignon 2002.
“ Ons maak letterlik die wyn in die wingerd en is trots daarop dat ons
ons mikpunt, om een van die voorste boetiekkelders in die land te word, kan navolg,” het
Carstens gesê.
DANIE KEET
|