HOME ABOUT US OUR WINES NEWS GALLERY CONTACT
 
NEWS LETTERS
NEWS ARTICLES
 
 

Die Burger – 26 Sept 2006
Audacia-wyne onbeskaamd tussen groot name

“ HIER op Audacia maak ons nog eintlik die wyn in die wingerd en daarom is ek baie trots op wat ons klein boetiekkelder tot dusver vermag het.” Aan die woord is me. Elsa Carstens, wynmaker, bemarker en wingerdboukundige van Audacia-wyne, tussen Stellenbosch en die Strand.

Die naam van dié wynplaas aan die suidelike hang van die Helderberg naby Stellenbosch is op sigself beskrywend van die ontstaan daarvan. En dit was die druk wat romanse soms op ’n mens se lewe plaas wat direk aanleiding gegee het tot die totstandkoming van dié landgoed. Die seun van die eienaar van Neethlingshof, mnr. Kosie Louw, wou trou en kon nie vir die goedkeuring van sy pa, of vir sy erfporsie, wag nie. Hy het toe sy geldjies geneem en ’n deel van die plaas Annandale gekoop, wat tussen gevestigde wynplase soos Alto, Rust en Vrede geleë was. Sy vriende het dié daad as audacious beskryf en sommer daar en dan het die plaas naam gekry.
Dié streek is bekend vir die produksie van rooiwyn van uitstaande gehalte met kultivars soos Cabernet Sauvignon, Roobernet, Shiraz, Merlot en Cabernet Franc wat reeds talle wenwyne opgelewer het.

 

View of vineyard

 

Louw het hom in 1957 by sy pa aangesluit en ook die plaas by hom geërf na sy dood. In 1978 het die wynmaakaktiwiteite op Audacia skielik tot ’n einde gekom toe Louw sy smaak- en proevermoë in ’n motorongeluk verloor het en daar vir byna twee dekades geen wyn op die plaas gemaak is nie.

Eers in 1996 het die plaas onder die eienaarskap van mev. Diane en mnr. Trevor Strydom nuwe lewe gekry en het hulle die plaas, nou slegs 26 ha groot, aangeskaf en weer begin wyn maak. In 1998 het hulle besluit om die produksie van witwyn heeltemal te staak en net op rooiwyn te konsentreer omdat die plaas in die beroemde Goue Driehoek van rooiwynprodusente geleë is. “Audacia is ’n boetiek-wynkelder en ons maak net gehalterooiwyne van die 135 ton druiwe wat ons jaarliks pars,” sê me. Elsa Carstens, die plaas se wynmaker.

“ Ek wou nog altyd ’n boer geword het, maar omdat ek ’n vrou was, het ek nooit ’n kans gestaan om my oupa se koringplaas in die Swartland te erf nie. Ek moes maar my eie potjie krap en het die wynbedryf gekies,” het sy gesê.

Carstens is die groot dryfveer agter die suksesse van Audacia en het reeds vroeër haar merk op die wynbedryf gemaak toe sy die eerste vroulike lektrise in wynkunde aan die Landboukollege Elsenburg was. Sy het ’n honneursgraad in landbou en ’n meestersgraad in wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. “Ons pluk ons druiwe met die hand sodat ons geen gehalte hoef in te boet nie. Daarna word die druiwe in klein tenks gefermenteer voordat die wyn in Franse eikehoutvate verouder,” het sy haar wenresep kortliks beskryf.

“ Dis ook die lekkerte van omtrent alles self doen en toesig hou oor die hele wynmaakproses vandat die druiwestokke in die grond gesit word totdat die produk in die bottel is wat dit vir my ’n passie maak om elke dag na Audacia te kan terugkom. Daar is ook die groot uitdaging om met die groter, meer bekende handelsname te kan meeding. Omdat ons so klein is, word daar nie altyd baie van ons verwag nie, maar dit is lekker om tussen die groot name in die bedryf gereken te kan word met ons uitstekende produkte,” het sy trots gesê. “ Toe ek op Audacia gekom het, was hier niks, buiten ’n paar halwe tenks en ’n tafel en stoele wat as proelokaal moes dien en hier was nie eers behoorlike wingerde nie".

“ Ek het die voorreg gehad om te kon help om elke stokkie se wortels in die grond te steek. In 2002 het ons die hele plaas oorgeplant en ek was van die begin af by elke faset betrokke. Nou, na ’n hele paar jaar se swoeg en sweet, begin ons die vrugte pluk en dit is ’n baie lonende ervaring,” het sy gesê.

Haar lang verbintenis met die Stellenbosch-omgewing en haar deeglike akademiese kennis, maak van Carstens die ideale persoon om die plaaslike omstandighede te benut, ’n faktor wat krities belangrik is om wenwyne te kan produseer. Wyne wat tans deur Audacia gemaak word, sluit in cabernet sauvignon 2001, wat Suid-Afrika vanjaar by die Tri Nations-wynkompetisie in Australië verteenwoordig het, Jeté cabernet sauvignon 2001, Coeur de Rouge 2001 (cabernet-merlot-versnit), Shiraz 2002, Rouge Noble 2003 (cabernet-merlot-shiraz-versnit) en die nuwe Cabernet Sauvignon 2002.
“ Ons maak letterlik die wyn in die wingerd en is trots daarop dat ons ons mikpunt, om een van die voorste boetiekkelders in die land te word, kan navolg,” het Carstens gesê.

DANIE KEET

 
 
COUNTRY LIFE APRIL 2009
FAIRLADY SEPTEMBER 2008
BUSINESS DAY JUNE 2006
DIE BURGER SEPTEMBER 2006
CWC DECEMBER 2006
 
   
   
  ® Audacia Wines 2008 | web development by telarian web solutions